Wysheid en moed loop hand-aan-hand; die een is nutteloos sonder die ander

the-wise-old-owl-steven-ponsford

Spreuke 4:6 – Maak die wysheid jou metgesel, dit sal jou beskerm

Spreuke 8:35 – Wie my (wysheid) vind, vind die lewe self.

Spreuke 9:10 – Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken het werklike insig.

Spreuke 11:29 – ‘n Onverstandige mens word die slaaf van dié een wat wysheid het.

Spreuke 14:16 – Wie wysheid het, is versigtig en vermy die kwaad.

Spreuke 14:18 – Verstandige mense word met kennis bekroon.

Spreuke 15:24 – ‘n Verstandige mens se pad loop boontoe, na die lewe toe.

Spreuke 17:27 – ‘n Mens met insig bly kalm

Spreuke 18:21 – Die tong het die mag oor dood en lewe

Spreuke 22:3 – ‘n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit

Moed sonder wysheid laat ‘n mens dwaas dinge vinnig doen, of uit die vlees uit reageer.

Om al die wysheid te hê, help ook nie as ons nie die moed het om dit deur te voer nie. Dit kom ook teen ‘n prys – geen verskoning meer vir dwaasheid of ongehoorsaamheid nie. Hoe groter die taak of situasie wat ons in die gesig staar – hoe meer moed benodig ons om die nodige wysheid uit te voer.

Dus gaan wysheid en moed saam soos arm en hand.

Hoe om wysheid te voeg tot woorde – in moeilike tye (frustrasie, kwaad, neerslagtigheid, tragedie, trauma, ens) moet ons wysheid toepas en moed gebruik om ons monde toe te hou om nie dood te spreek nie. Eerder stilbly as ons nog nie genoeg beheer oor ons woorde het om lewe, instede van dood, oor ‘n situasie te spreek nie. Kinders van God se woorde dra ‘n dieper salwing – elke enkele gesproke woord. Van ons gebede regdeur na die gesprekke wat ons het met die persone agter die winkel se kasregister. Elke boodskap wat ons tik en elke woord wat ons in ‘n vriendskaplike gesprek uiter.

Ons kry nie oorwinning nie, want ons woorde vrot. Woorde oor onsself, ons situasies, ons omgewing en ander. As ons onwyse dinge sê, spreek ons vloeke uit en vloeke is bindend. Spreek ‘n vloek noú en ‘n gebed láter, en die gebed is soos om grond op jou skoon skottelgoed te gooi.

Dit is pynvol om in ‘n kwaai/frustrerende toestand positiewe of vredevolle woorde te spreek. Dit vat meer moed om in sulke tye stil te bly of lewe te spreek as wat dit vat om ‘n persoon 2x groter as onsself aan te vat in ‘n vuisgeveg. Of om in ‘n neerslagtige bui nie dood te spreek oor iets nie. Dit is in ons menslike natuur om uit die vlees (emosie) te praat, so om deur wysheid en moed dinge om te draai, gaan direk teen ons grein. Dis nie ‘n outomatiese ‘karaktertrek’ wanneer ons deel is van God se koningkryk nie. Dis ‘n keuse en dan ‘n pynlike aksie om dit deur te voer – fisies en verstandelik pynlik.

Wysheid is só belangrik dat dit ál ding was waarvoor koning Salomo gevra het toe God hom persoonlik gevra het wat hy wou hê. (Onthou, hierdie is die man wat koning Dawid se skoene moes volstaan, en al waarvoor hy gevra het is wysheid? Dit spreek boekdele.) Hy was pas koning gekroon, ‘n jong man, en hy wou nie mag, krag, rykdom of ‘n lang lewe gehad het nie – net wysheid. En omdat hy slegs dít gevra het, het God dit nie net gegee nie, maar uit Sy eie uit al die ander dinge bygesit wat die vlees eerder voor sou wou vra het. Dit is die ware betekenis van soek eers die koningkryk van God en Hy sal al hierdie dinge vir julle bygee.

Hoe sal ons vleeslike- en geestelike lewens en omgewings verander as ons ook net vir Goddelike wysheid vra en dit dan deur moed toepas? Dit is mos die logiese oplossing vir baie dinge.

God sê as ons vrylik vra sal Hy vrylik gee. Hy sál wysheid gee as ons nederig vra, maak nie saak in watter area van die lewe ons onsself bevind nie. ’n Goeie begin is om deur Spreuke te werk, dit te memoriseer en ter harte te neem. Daar is 31 – een vir elke dag.

Kry wysheid en sien hoe verander die lewe. Nie noodwendig altyd makliker nie, maar beslis meer waardevol. En as jy voel dat jy nie genoeg moed het om dit toe te pas nie – doen dit met bewende broek en al.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s